HOME
Who
Aims & Objectives
History
Milestones
Achievements
Office Details
FARR News
Farr Team

 

Where does FARR Work?

 

FARR Training Academy

 

FASD
Fas?Afrikaans
Fas? English
Info
FASD Knot

 

Research Library
Help Assist
Partners
Contact FARR
 
 

Fetale Alkoholsindroom: 'n Kort Oorsig

WAT IS FETALE ALKOHOLSINDROOM?

 Fetale Alkoholsindroom (FAS) word veroorsaak wanneer ‘n swanger vrou alkohol tydens swangerskap gebruik.  Die woord ‘sindroom’ dui op ’n hele omvattende reeks toestande waaraan die baba uiteindelik kan lei wat almal herlei kan word na alkoholgebruik tydens swangerskap.

Die alkohol word deur die swanger vrou se bloedstroom opgeneem en bereik binne 20 minute na inname die ongebore baba of fetus.  Alkohol is giftig (toksies)  vir die ongebore baba.  Enige orgaan van die baba kan beskadig word, maar die ontwikkelende brein is veral baie kwesbaar.  Dit is dan ook die rede hoekom alle kinders met FAS ’n matige tot ernstige graad van breinskade het.  Die gemiddelde IK van ’n kind met FAS is tussen 65 en 75 (Norm = 100).  As in gedagte gehou word dat SA tans ’n beleid van inklussiewe onderwys het, beteken dit dat hierdie kinders in hoofstroom skole is.  Die kinders, opvoeders en ouers voer dus daagliks ’n geweldige stryd om hierdie kinders te help om hul daaglikse uitdagings te hanteer.

 

WAT IS FETALE ALKOHOL SPEKTRUM AFWYKINGS (‘FETAL ALCOHOL SPECTRUM DISORDERS)?

 FAS is die ergste vorm van Fetale Alkohol Spektrum Afwykings, as te ware die sogenaamde spits van die ysberg.  Fetale Alkohol Spektrum Afwykings dui op die hele spektrum van afwykings wat kan voorkom wanneer ’n baba in utero aan alkohol blootgestel is.  Dit sluit die volgende in:

bullet

Alkoholverwante Neuro-ontwikkelingsdefekte (‘Alcohol Related Neurodevelopmental Defects of ARBD)

Enige van die ongebore baba se ontwikkelende organe kan deur die giftige (toksiese) effek van     alkohol beskadig word.  Die brein is veral baie kwesbaar Kinders met hierdie alkoholverwante afwykings het breinskade, maar geen ander ooglopende tekens en simptome nie en ook geen ander orgaanbeskadiging nie.   Om hierdie diagnose te maak vereis noukeurige neuro-ontwikkelingstoetsing deur gebruik te maak van sielkundige toetse wat spesiaal hiervoor ontwikkel is.  Kinders met hierdie toestand word dikwels verkeerdelik ge-etiketeer as ‘stout’, hiperaktief en/of aandagafleibaar.

bullet

Alkoholverwante Geboorte-defekte (‘Alcohol Related Birth Defects’ of ARBD)

Kinders word soms gebore sonder die kenmerkende tekens en simptome van FAS, maar met beskadigde organe (bv. hart-, oog, hand en ander defekte).  Die diagnosering van hierdie kinders is geweldig kompleks en benodig intensiewe kundigheid.

 

IS DAAR ENIGE VEILIGE HOEVEELHEID VIR DIE GEBRUIK VAN ALKOHOL?

Ongelukkig nie.  Individue metabliseer (verwerk) alkohol verskillend en ’n mens kan dus nie voorspel hoe jou liggaam op alkohol gaan reageer nie.  Sodra vroue swanger raak verander die metaboliese vermoens van hul liggame ook.  Ons moet ook ingedagte hou dat die fetus se lewer nog onvolwasse is en dus geweldige probleme het om self die alkohol te metaboliseer.

 Vroue van veral laer sosio-ekonomiese groep het dikwels ’n gebrekkige dieet en lei selfs aan onder- of wanvoeding.  Baie van hierdie vroue neig om nie te eet wanneer hulle alkoholgebruik nie.  Die negatiewe effek van alkohol is dus soveel meer intens op hul liggame, asook die van hul ongebore babas. 

 Fuifdrinkery (‘binge drinking’) kom wyd voor in Suid-Afrika.  Dit is algemene gebruik dat mense vir tydperke geen alkohol inneem nie (bv. nie gedurende weeksdae) en dan groot hoeveelhede alkohol inneem oor naweke of by partytjies.  Fuifdrinkery word gedefineer as 5 of meer drankies (absolute alkohol inhoud van 15 ml per drankie) in een sitting van ongeveer 2 – 3 uur.  Hierdie skielike verhoogde alkoholpieke in die bloedstroom van die swanger vrou bombardeer as te ware haar ongebore baba met alkohol en is uiters nadelig vir die baba se ontwikkeling.

 Die veilige en aanbevole antwoord is dus GEEN alkohol tydens swangerskap, want selfs een glasie alkohol mag skadelik wees.

 ‘Alkohol’ sluit natuurlik enige alkoholiese drankie  soos bier, wyn en vrugte drankies met alcohol in.

 

IS FAS ’n GROOT PROBLEEM?

Ja, dit is węreldwyd ’n groot probleem alhoewel daar nog net amptelike voorkomssyfers vir Amerika (0,1 – 03%), Frankryk (2,1%), Swede (2,1%) en Suid-Afrika (8 – 12%) beskikbaar is.  Suid-Afrika het die hoogste gerapporteerde voorkomssyfer ter wereld.  Hier in ons land kom die probleem 30 tot 50 keer meer algemeen as Down sindroom voor. 

 In Suid-Afrika is nog net 4 FAS voorkomsstudies gedoen.  Al die studies is deur die Stigting vir Alkoholverwante Navorsing (‘Foundation for Alcohol Related Research’ of FARR) gedoen:

 

Area Provinsie Datum Voorkomssyfer uitgedruk as %
Gauteng (Gedeeltes van Johannesburg Gauteng 2000 2,1%
Wellington Wes-Kaap 2001 8,8%
Upington Noord-Kaap 2002 6,9%
De Aar Noord-Kaap 2003 12%

 

FARR is tans besig met ’n FAS-voorkomsstudie in die Witzenberg-distrik.  Die data behoort in 2010 beskikbaar te wees. Die FASER-SA groep (’n Amerikaanse konsortium wat eers saam met FARR gewerk het en tans gekoppel is aan die Universiteit van Stellenbosch) is besig met ’n herhaling van die Wellington-opname, asook ’n voorkomsstudie in die Bonnievale, Robertson, Ashton en Montagu area.  Die data behoort oor 3 jaar beskikbaar te wees.

 Al bogenoemde studies word, volgens internasionale wetenskaplike standaarde en riglyne, op Graad Een leerders gedoen.  Gevolglik kan die bevindinge na die totale bevolking in die betrokke areas veralgemeen word, maar dit is nie voldoende om aan ons ’n voorkomssyfer van FAS in Suid-Afrika te gee nie.  Deur die gebruik van internasionale standaarde stel dit ons land in staat om ons data met die res van die węreld se data te vergelyk.

 (Let wel:  bogenoemde statistiek moet met groot sorg hanteer word, ten einde nie gemeenskappe te etikeer as sogenaamde ‘FAS-dorpe’ nie.  Dit is dus belangrik om nie in die dorpe se name in die media te noem nie.) 

 

KAN ENIGE KIND FAS KRY?

 Ja, ongeag van jou kleur, ras of geloof.  As ’n vrou alkohol tydens swangerskap inneem loop sy die risiko om ’n kind met FAS te hę!  Baie kinders word nooit gediagnoseer nie en gaan swaar gebuk onder die las van hul belemmerende simptome en word dus nie ’n behoorlike kans op behandeling gegun nie.

 IS FAS GENEESBAAR?

 Ongelukkig nie.  Dit is 100% voorkombaar deur bloot nie alkohol tydens swangerskap in te neem nie, maar die skade aan die ongebore baba (fetus) is permanent en onomkeerbaar.

 

WATTER TIPE SKADE WORD AANGERIG?

 Baie vroue vind eers op ongeveer 3 tot 4 maande uit dat hulle swanger is.  Hulle gaan dus voort om alkohol soos gewoonlik te gebruik en bereken dus so onbewustelik skade aan hul ongebore babas. 

Hierdie skade kan die volgende behels:

bullet

Groeivertraging (kinders is klein van postuur);

bullet

Enige orgaan kan beskadig word, veral die brein, hart, oë, ore, en dies meer

bullet

Die vorming van die kind se gesig kan geaffekteer word;

bullet

Breinskade het lewenslange verhoudings en leerprobleme tot gevolg, bv.  Klein motoriese ontwikkelingsprobleme, probleme met rekenkundige vaardighede, abstrakte denke, oorsaak en gevolgbegrip en dies meer.

Persone met FAS lei dus lewenslank agv bogenoemde aantasting.

 

HOE WORD FAS GEDIAGNOSEER?

Dit is uiters noodsaaklik dat die korrekte en wetenskaplike diagnostiese kriteria gebruik word ten einde te verseker dat ’n kind werklik FAS het en dat hy/sy en sy gesin nie verkeerdelik ge-etiketeer word nie. 

Dit is veral van belang in ’n multi-kulturele samelewing soos Suid-Afrika waar baie van die sogenaamde ‘kenmerkende FAS gelaatstrekke’ normaal voorkom by sommige van die kulturele groepe in ons land.  Verkeerde ‘diagnoses’ word dikwels op grond hiervan gemaak en het verrykkende negatiewe gevolge vir beide die kind en sy gesin.

 Die diagnosering van FAS kan slegs deur opgeleide spesialiste deur middel van die volgende gedoen word:

bullet

Kliniese ondersoek (IOM model);

bullet

Neuro-ontwikkelingstoetsing (spesifieke sielkundige toetse ontwikkel om FAS te diagnoseer);

bullet

Intensiewe moederlike onderhoud (om tipe, tyd en hoeveelheid van alkoholgebruik tydens swangerskap vas te stel).

Bogenoemde bevinding word vergelyk en slegs as aldrie toetsing positief is, word daar volgens graderings ’n diagnose van Fetale Alkohol Spektumafwykings gemaak.

 

WAT KAN GEDOEN WORD OM FAS TE VOORKOM?

 Dit is uiters belangrik dat soveel mense as moontlik die boodskap ontvang sodat ons almal kan saamstaan om swanger vroue te ondersteun om nie alkohol tydens swangeskap te gebruik nie.  Vriende, familie en die vader van die ongebore kind het ’n reuse verantwoordelikheid in hierdie opsig.

 Dit is veral belangrik dat ons ook die hoër sosio-ekonomiese groepe betrek, want baie mense verkeer steeds onder die vals indruk dat slegs persone van sekere, lae inkomste bevolkingsgroepe FAS kan kry.

 Professionele diensverskaffers soos maatskaplike werkers, gesondheids- en onderwyspersoneel moet opleiding ontvang ten einde hul toe te rus vir die voorkoming, diagnosering en hantering van persone met FAS.

 

 

Contact Information

Telephone:  +27 (0) 21  686 2645 /6/7

Fax:  +27 (0) 21  685-7034

Postal address

          37 Thornhill Road, Rondebosch, 7700, South Africa
 
Electronic mail
CEO : Leana Olivier

Send mail to Webmaster with questions or comments about this web site.
Copyright © 2008 Farr
Created: May 12, 20
10.